Terre’Blanche net ’n skadu van ou stryder in nuwe fliek Pieter Malan 01/03/2006 19:42 - (SA)
LONDEN. – Mnr. Eugène Terre’Blanche is net ’n skaduwee van sy uitgesproke en revolusionêre self wat sy voormalige volgelinge, wat steeds aan hul rassistiese ideologieë vasklou, in die steek gelaat het.
Dit is die beeld wat van die verregse AWB-leier geskets word in ’n nuwe dokumentêr wat Maandagaand oor die Britse Channel 4 vertoon is.
His Big White Self is ’n opvolg op die beroemde The Leader, the Driver and the Driver’s Wife, wat 14 jaar gelede vir die eerste keer uitgesaai is en beskou word as een van die beste dokumentêre programme in sy soort.
Dit is die prent wat destyds die beweringe van ’n seksuele verhouding tussen Terre’Blanche en die Sunday Times-rubriekskrywer Jani Allen gemaak het. Allen het later onsuksesvol probeer om Channel 4 te dagvaar oor die beweringe.
Vir die jongste program het die Britse dokumentêre rolprentmaker Nick Broomfield teruggekeer na Ventersdorp om te probeer vasstel wat van die drie karakters van sy eerste dokumentêr geword het.
Die program open met ’n skoot waar Broomfield by JP Meyer, Terre’Blanche se voormalige bestuurder, se huis opdaag vir sy afspraak.
In ’n surrealistiese toneel loop Broomfield by die huis in – terwyl Meyer se oorgewig hond alleen in die sitkamer sit en kyk na Broomfield se vorige film oor Terre’Blanche. Vir Meyer self kry hy kaalbolyf in die kamer, besig om aan te trek vir die onderhoud.
Meyer vertel hom onder meer oor sy geloof dat die Bybelse Adam wit was en dat Noag, as direkte afstammeling, dus ook wit moes wees.
Omdat net Noag en sy familie op die ark was, moet die swart mense afstammelinge van die diere wees wat saam met hom op die ark was.
“Dit is ’n radikale teorie, JP,” sê Broomfield en Meyer knik sy kop.
Ten spyte hiervan, en die feit dat Meyer sê hy is spyt dat daar nie ’n oorlog uitgebreek het ná 1994 nie, ontvou ’n baie simpatieke beeld van Meyer, ’n ambulansbestuurder “wat probeer om mense te help”, tydens die program.
Meyer en sy vrou, Anita, is intussen geskei en sy bly in Ottosdal.
Broomfield vind dit egter baie moeilik om ’n afspraak met Terre’Blanche te kry en uiteindelik vermom hy homself as ’n “silly Englishman” in ’n Panamahoed om ’n onderhoud met Terre’Blanche te voer oor sy tronkgedigte.
Tydens die onderhoud vertel Terre’Blanche van sy liefde vir die natuur en nooi hulle ook uit na ’n kerkdiens waartydens hy gaan preek.
Terrre’Blanche preek oor Job en “hoe die honde aan sy sere gelek het in die hoop dat hy sou doodgaan”, ’n verwysing na sy eie tyd in die tronk. Hy sê ook dat die tronkowerhede (“die Satan”) hom doelbewus verneder het deur hom in “Bophuthatswana” aan te hou tydens sy tronkstraf, terwyl ’n wye kameraskoot wys dat die kerk so te sê dolleeg is.
“Lyk hy vir jou soos die leier van ’n Weerstandsbeweging” vra Meyer aan Broomfield tydens ’n opvolgonderhoud.
“Het hy jou op enige manier bedreig laat voel”
Broomfield vra hom of Terre’Blanche die leier is om mense wat deur ’n moeilike tyd gaan, te lei.
“Nee, ek dink nie so nie,” antwoord Meyer, en voeg by dat Terre’Blanche “mak” geword het nadat hy uit die tronk gekom het. __________________
__________________
DAAR'S NET EEN PAD OM TE LOOP,EN DIS DIE BOERVOLK SE PAD,SAAM MET DIE SKEPPER
Hallo Piett, ja nee die AWB het hulle beurt gehad, ek glo in my hart dat daar tog opregte mense daar gewees het, ongelukkig was daar diesulkes wat glad nie geweet het waaroor dit gaan nie, ek dink die brandewyn het ook maar menigdes in 'n grootsheidswaan laat leef
Vorentoe sal ons die regte pad stap, met die vertroue in ons Skepper le daar oorwinning voor die deur